CrimeNews

‘Werksoekers’ weg met vrou se kar

“Ek het net begin gil, toe plant hy ’n vuishou op my linker kakebeen.”

Minute nadat ’n vrou ’n foto op sosiale media geplaas het oor twee verdagte mans wat huise dophou, het dieselfde twee verdagtes haar motor gesteel.

“Die oomblik toe ek voor die hek stop het ek geweet hier kom moeilikheid, my sesde sintuig het in die hoogste rat ingeskop,” het me. Karin Odendaal‎ vertel.

Sy het op die oggend van 25 November ’n foto geneem van twee verdagte mans wat ’n hele week al op die hoek van Plantation- en Secondstraat gesit en die wêreld dopgehou het. Die foto was skaars op Facebook toe sy deur die mans beroof is.

Odendaal het gesê sy was gou uit en toe sy 30 minute later terugkom het ’n ongemaklike gevoel reeds op haar skouer kom sit.

Sy het vertel dat sy uit haar voertuig geklim het, die hek oopgemaak het en tot voor haar motorhuis gery het.

“Omdat ek die gevoel nie kon afskud nie het ek my huissleutels in my hand gehou met een van die sleutels wat soos ’n punt uitsteek om myself te verdedig as ek moet.”

Oomblikke nadat sy die hek toegemaak en omgedraai het, het sy die hek weer hoor oopgaan.

“Een van die mans was binne in my erf. Op my vraag wat hy soek het hy geantwoord ‘werk’. Ek het gesê hier is nie werk hier nie hulle moet op ’n ander plek gaan soek.”

ze600rs
Die foto wat op sosiale media geplaas is van die twee verdagte mans wat op die hoek van Plantation- en Secondstraat die hele wêreld bespied.

Die man was skielik by haar en sy het in ’n vuurwapen se loop vasgekyk.

“Ek het net begin gil, toe plant hy ’n vuishou op my linker kakebeen.”

Die verdagte het in haar Citi Golf geklim en gesukkel om agteruit te ry.

“Terwyl hy so sukkel het ek aanhou skree. Ek het op hom geskree ek soek net my foon en hy het net geskree ‘shut-up, shut-up’.”

Een van Odendaal se bure het haar gille gehoor, haar opgelaai en naarstigtelik na haar voertuig begin soek.
Die groen Golf is sowat vier ure later in Libertasstraat, nie ver van waar die voorval plaasgevind het nie, opgemerk.

“My kar is nog steeds weg. Maar vir my is dit net ’n aardse besitting. Hulle kan my verdomde beursie maar hou en my foon ook. Ek is nie van plan om ’n slagoffer te wees nie, en ek gaan ook nie nou verslae en terneergedruk word nie. Daar is soveel ‘what ifs’, ‘should have beens’ en ‘could have’s’ hierdie was ’n les en ek beweeg aan,” het Odendaal gesê.

Sy het gesê sy het glad nie ’n roetine nie. Die mans het net gewag tot ’n geleentheid hom voordoen om te roof.
Dit blyk of Blancheville nou gereeld in boosdoeners se visier is.

Reina Pretorius het gesê daar is Dinsdag 22 November by hul voertuie ingebreek en beide die voertuie se radio’s is gesteel.

Pretorius het gesê hul bande en wielvellings is ook al van hul bakkie afgesteel.
In Oktober is Madalane Brits se motorfiets in Avrilstraat gesteel.

“Mens voel so magteloos. Blanchville is ’n teiken,” het Brits gesê.

Johan Zwart, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringforum (GPF) in sektor twee Blanchville het gesê as daar na statistieke gekyk word is die misdaadsyfer in die gebied die laagste in die stad.

“Al word daar na statistieke verwys is daar nog steeds boosdoeners wat in die area doenig is. Ek doen weereens ’n beroep op inwoners van ons sektor om ekstra paraat te wees en stappe te neem om hulself te beveilig,” het Zwart gesê.

Hy nooi inwoners om elke eerste en derde Maandag van die maand die GPF se vergaderings by te woon. Dit vind in die NG Kerk Panorama se saal plaas en begin om 18:00. Die GPF se laaste vergadering vir die jaar is op Maandag 12 Desember. Nog ’n inwoner wat ’n noue ontkoming gehad het se Toyota Hilux bakkie het koeëlgate in wat vertel van die lewensgevaarlike situasie waarin hy was. Llyaas Ibraahim het gesê hy was op 22 November om 19:45 by sy woonstel se oprit toe hy deur twee verdagtes verras is.

“Ek het net die geweer gesien en besef ek moet vlug. Met die wat ek toe wegry het die verdagtes op my geskiet,” het Ibraahim vertel.

Die kaping-poging het in die sentrale besigheidsarea in Arrasstraat plaasgevind.
Polisiewoordvoerder kapt. Eddie Hall het gesê inwoners moet paraat wees en as hulle onveilig voel moet hulle na die naaste polisiestasie toe ry of hul GPF’s kontak om saam met hulle na hul huise te ry.

“Elkeen is ’n teiken. Die polisie is besig met Operasie Feesgety wat landswyd aandag geniet en polisie sigbaarheid is een van die fokuspunte,” het kapt. Hall ten slotte gesê.

LEES OOK:
Kapings vind plaas tussen inwoners
Verwag enige tegniek vir kapings

 
Back to top button