ADVERTISEMENT:

 

Ma Lilani Senekal se sonskynkinders, Liné en Erhard, se gesiggies straal weer. Die twee is op 2 Oktober ernstig beseer tydens ‘n motorongeluk in Pretoria. Foto’s verskaf.

Boetie en sussie se gesiggies straal weer ná erge ongeluk

 

Dit gaan goed met die twee jong oud-Louis Trichardters, Liné (17) en Erhard (13) Senekal, nadat beide ernstig beseer is in ‘n motorongeluk in Pretoria op 2 Oktober.

Die twee was die betrokke dag saam met hul tannie, Waldeen Fouché, op pad huis toe ná ‘n filmvertoning. ‘n Motoris het ‘n rooi verkeerslig verontagsaam en sy voertuig het Waldeen se motor op die regterkant getref. Erhard, wat agter Waldeen gesit het, het meeste van die impak geabsorbeer en ernstige kopbeserings opgedoen nadat sy kop die voorste sitplek en venster getref het. Liné het ook kopbeserings opgedoen. Waldeen was die gelukkigste van die drie en het net kneusplekke en ligte snywonde opgedoen.

Beide Liné en Erhard is per ambulans deurgejaag na die Pretoria-Oos Hospitaal, waar hul toestand gestabiliseer is. Alhoewel albei bloeding op die brein opgedoen het, was Erhard se toestand meer kritiek. Hy het verskeie breuke aan sy skedel opgedoen, insluitend frakture van die kakebeen, wangbeen en neus.

Weens die ernstige graad van Erhard en Liné se beserings moes beide later dieselfde dag oorgeplaas word na die hoësorgeenheid van die Unitas Hospitaal. Die twee se ma, Lilani Senekal, het nie ‘n mediese fonds nie en om kostes te help bespaar, het die hospitaal besluit om eerder die kinders na ‘n gewone saal oor te plaas. Later sou Lilani, weereens om kostes te bespaar, toegelaat word dat die kinders by die huis kan aansterk. Erhard moes egter 24 uur per dag dopgehou word. In daardie stadium het dokters nog gewag dat die swelling aan sy brein moet sak, voordat daar op hom geopereer kon word om die skade aan sy skedel te herstel. Die voorlopige datum vir die operasie was 17 Oktober.

“Met die kinders gaan dit goed en die wonde word gesond. Ongelukkig sal ons nie in hierdie stadium kan laat opereer nie. Die fondse is net nie beskikbaar nie,” het Lilani Woensdag laat weet. Sy het egter genoem dat daar nie ‘n ernstige mediese gevaar is indien daar nie nou dadelik op Erhard geopereer word nie. “Dokters sê alles sal aangroei, maar noodwendig skeef en krom,” het Lilani gesê.

Intussen is Erhard se steke uitgehaal en is die groot sny aan sy voorkop besig om te herstel. “Die frakture in die gesig heel mooi en is verbasend nie so seer nie. Sy gebreekte neus en wond op sy voorkop is nou ‘sexy scars’,” het Lilani gesê. Sy voeg by dat Erhard se bloeding op die brein feitlik heeltemal weg is. “Die dokters is tevrede,” het Lilani gesê. Erhard sal egter ‘n duik op sy voorkop hê en 'n krom neus tot verdere operasies op hom gedoen kan word.  

Wat sus Liné betref, het Lilani gesê dat haar gesigwonde feitlik heeltemal gesond is, alhoewel sy ook maar letsels sal oorhou. “Haar arm is steeds seer en sy loop met ‘n skouerband as hy pyn. Dit sal met tyd regkom, aangesien die fraktuur nie met gips herstel kan word nie,” het Lilani gesê.

Lilani het gesê beide kinders haal nou hul skoolwerk in en hul lewens is stadig maar seker besig om na normaal terug te keer. “Die trauma van die ongeluk en hul ouma se dood bly egter nog by ons soos gister, maar ons werk daardeur,” het Lilani gesê. Haar ma en die kinders se ouma, die 65-jarige me. “Dimpels” de Meyer van Louis Trichardt, is ‘n paar dae voor die ongeluk aan kanker oorlede. Lilani was juis die dag van die ongeluk nog besig met die finale reëlings vir haar ma se roudiens wat die volgende dag plaasgevind het. “Maar hul sonskyn gesiggies straal weer en hulle sien kans vir dit wat op hulle wag. Dit was net weer ‘n duidelike voorbeeld dat ons net vir mekaar geleen is,” het Lilani gesê

Te midde van die hartseer en moeilike tyd, is Lilani baie dankbaar vir die hulp en ondersteuning wat sy ontvang het van die Louis Trichardt-gemeenskap ten opsigte van donasies om die kinders se mediese kostes te help betaal. “Ek wil graag dankie sê aan Luke Enslin van Spar, die manne van Tafelronde Zoutpansberg 66, Erhard en Anja Smit, Riaan Dreyer, Annemie Spaumer en al die kinders se maats! Dankie aan elkeen van wie ek nie weet nie vir al die oproepe en boodskappe. Ongelukkig wys die fondse nie name nie, so dis moeilik om elkeen op sy naam te bedank. Aanvaar asseblief my innige dankbaarheid vir elkeen se belangstelling, liefde en omgee,” het Lilani gesê.

Lilani het gesê dat sy darem die geld wat ingesamel is kon gebruik om ‘n gedeelte van die hospitaal- en dokterskoste te betaal. “Ek is so bly ek kan iets klaar betaal en afhandel. Die rekening sluit volgende week, aangesien die hospitaal nie die rekening kan oophou vir ‘n pasiënt wat nie meer in die hospitaal is nie,” het Lilani gesê.

News - Date: 23 October 2016

Recent Articles

Search for a story:

 

Liné (17) en Erhard (13) Senekal afgeneem 'n paar dae ná die ongeluk waarin beide ernstige kopbeserings opgedoen het. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: