CrimeNews

Kapers sit jou in jou kattebak en gaan ‘cruise’

Kapings is niks nuut vir die inwoners van die Steenkoolstad soos die syfers daagliks klim nie.

Kapings is niks nuut vir die inwoners van die Steenkoolstad soos die syfers daagliks klim nie.
Die afgelope week is daar weer drie kapings aangemeld by Witbank Polisiestasie.

“Wat is lekkerder as ’n sigaret vir ’n roker na ’n lang rit vanaf Phola tot eMalahleni? “Jou veiligheid,” het mnr. Michael Cossoph begin vertel oor sy ure van angs toe hy op 31 Julie gekaap en ontvoer is.

Volgens wet moet alle motoriste padreëls en regulasies ten alle tye gehoorsaam om ongelukke te vermy, maar in Cossoph se geval het dit hom sy voertuig gekos.

“Ek het tot stilstand gekom toe ek by die Watermeyr-afrit moes wag vir aankomende verkeer om regs te draai na Tasbet. My venster was oop omdat ek gerook het. Jy verwag mos dat die goed wat jy raaksien op die nuus, nooit met jou sal gebeur nie maar dink weer,” het Cossoph kwaad vertel.

Volgens hom het daar ’n man uit die bloute langs sy venster verskyn,

“Ek het nog my kop geskud om aanduiding te gee dat ek niks vir hom het nie. Toe die man ’n geweer uitruk. Die kant van my oog het nog beweging aan die passasierskant opgemerk.”

Altesaam het daar drie gewapende verdagtes op hom toegesak en hom beveel om uit sy voertuig te klim. Hy het sy samewerking gegee en uitgeklim. “Ek het my sleutels aan hulle oorhandig,” het hy ook gesê.

Dis toe die booswigte nie net tevrede was met Cossoph se voertuig nie en hom in die kattebak druk en wegjaag.

“Hulle het ’n hele ruk lank met my rondgery toe hulle skielik stop en my dwing om geld aan hulle oor te betaal via ABSA ‘cash send’. Ek het nie toegang tot ’n netwerk gehad nie en moes my seun bel en vra om my daaglikse limiet oor te betaal,” het hy gesê.

Die kapers het Cossoph by’n vreemde veld langs die snelweg afgelaai en weggejaag met sy voertuig en alle besittings wat aan hom was.

WITBANK NUUS het al menige berigte voorheen geplaas van kapings wat op dieselfde manier en plek gebeur.
Witbank Polisiestasie se woorvoerder, kapt. Eddie Hall waarsku die inwoners om die basiese veiligheidsmaatreëls te implementeer.

“Daar is ’n moontlikheid dat die polisie met ’n sindikaat te doen het, maar kan eers bevestig word as alle informasie verkry is,” het kapt. Hall ten slotte gesê.

LEES OOK:
Verwag enige tegniek vir kapings
Mislukte kaping verander in skietgeveg

 
Back to top button