BlogsOpinion

Die mag van ’n T-hemp?

Nie ‘n gholfhemp of enige kortmou hemp met knope nie. Hier praat ek van ’n vormlose stuk materiaal met ’n gat om jou kop deur te steek en twee gate met sulke oorhang afdakkies om jou arms deur te steek.

Nie ‘n gholfhemp of enige kortmou hemp met knope nie. Hier praat ek van ’n vormlose stuk materiaal met ’n gat om jou kop deur te steek en twee gate met sulke oorhang afdakkies om jou arms deur te steek. As gevolg van ’n blykbare tekort aan materiaal is hierdie kledingstuk geneig om styf om jou lyf te span.

Aan mans gee dit daardie ‘help my sterk lyk’ en aan vrouens daardie ‘check my puppies’ indruk.
So ’n stukkie lap behoort minimaal te kos, maar sit nou ‘n logo daarop dan is dit ‘n ander storie, skielik word daardie skrapse stukkie materiaal ’n plaas se prys. Logos soos: ‘Ek is ’n breker” al kan hy net glase breek of ‘Ek is Superman se broer’ al is hy brandmaer. Of sit nou ’n Iron Maiden logo op dan het jy konsternasies in onse pandokkie.

Ek het die Engelsman na dié groep se optrede geneem en almal het Iron Maiden se T-hemde gedra en die Engelsman wou opsluit een hê. In vandag se ekonomie draai ek elke sent letterlik vyf keer om voor ek sommer iets aankoop. So is die Engelsman se droom om ’n T-hemp te koop net daar aan skerwe geskeur, ek betaal nie R300 vir ’n T-hemp wat ek by die vlooimark kan kry vir R100 vir twee nie. Dankie tog die geblêr van die kitare en dromme was so hard, ek het die Engelsman se treurmares skaars gehoor.

En dan kom verkiesingtyd, in ons land – die sport met die meeste deelnemers. Die uitdeel van omkoop kospakkies, wat met belastingbetalers se geld gekoop is, om stemme te werf is as ongrondwetlik bewys.
Dit is nou waar die waardelose stukkie materiaal handig te pas kom. Met logos soos ‘Vote for Zuma’, ‘Vote for the ANC’, ‘Stem vir die DA’, ‘Stem vir vooruitgang’, ‘Vote EFF’ en hierdie T-hemde wat gratis uitgedeel word, word ’n magtige wapen.

Die uitwerking wat die waardelose stukkie lap in ’n verkiesing het, is onberaambaar. Vir ‘n kieser wat ’n ‘Vote for Zuma’ hemp verniet kry maak dit nie saak of Zuma vir homself nog drie Nkandlas laat bou, of vir sy vier vrouens elkeen ’n Jet met belastingbetalers se geld koop nie. En al sou Zuma die reserwebank aan die Guptas skenk sal dit die ontvanger van die T-hemp nie pla nie. Met sy hemp is hy ’n ‘happy chappie’.

As hy vandag ’n ANC T-hemp kry is die DA T-hemp wat hy gister gekry het en die EFF T-hemp wat hy laasweek gekry het vergete en daardie ‘happy chappie’ gaan stem dan vir die party wie se T-hemp hy op verkiesingsdag dra.
Dit bygesê saam met die rooi T-hemp wat Julius vir hom gegee het, het hy ook ’n rooi beret saamgekry. En as hy gaan stem voel hy dadels watter gevolge sy stem vir homself, sy toekoms en sy land inhou, want nou is hy ’n ‘happy chappie met ’n cappie’.

 
Back to top button