GeneralLocal newsNewsSport

Kinders se Paasgeskenk

Dit is iets wat hulle altyd kan hou met die wete dat hulle dit gemaak het. Dit is iets spesiaal wat ons besluit het om te doen vir die kinders, aangesien hierdie Paasfees niks anders as elke ander dag gaan wees nie

“Hierdie kinders gaan nie huis toe vir die vakansie nie en spandeer ook Paasnaweek by Highveld Huis en Kindersorg. Ons het besluit om vir hulle iets te gee om te onthou,” het me. Julie van Niekerk, sentrumbestuurder van Pick n Pay Supermarket gesê.

Op Woensdag, 23 Maart het kinders van Highveld Huis en Kindersorg by Pick n Pay ’n oggend van vrolikheid en bederf geniet.

Kinderlaggies het die lug gevul terwyl hul kreatiewe sappe gevloei het in hul kunswerke. Hulle het elk ’n emmertjie ontvang met bederfies in, asook ’n Paasbeertjie wat deur ’n breispan gebrei is. Ook het hulle houtprente gekry wat hulle geverf het.

“Dit is iets wat hulle altyd kan hou met die wete dat hulle dit gemaak het. Dit is iets spesiaal wat ons besluit het om te doen vir die kinders, aangesien hierdie Paasfees niks anders as elke ander dag gaan wees nie,” het Julie bygevoeg.

 Kinders van Highveld Huis en Witbank Kindersorg het elk ’n houtprentjie ontvang wat hulle met hul eie kreatiwiteit kon verf, op Woensdag, 23 Maart.

Kinders van Highveld Huis en Witbank Kindersorg het elk ’n houtprentjie ontvang wat hulle met hul eie kreatiwiteit kon verf, op Woensdag, 23 Maart.

Bedsokkies is ook gebrei deur ’n breispan en dit is aan Immergroen Ouetehuis en Edenpark Aftreeoord gegee.

“Dit gaan aan die inwoners in die verswakte eenheid gegee word, om hulle warm te hou hierdie winter. Daar is 35 pare sokkies vir elke aftreeoord,” het me. Babs Wentzel van Immergroen gesê.

Babs en me. Thea Steyn het dit namens die inwoners ontvang.

“Ons span doen projekte en dit is iets waarmee ons nou al drie jaar besig is. Ons doen elke jaar projekte om by te dra tot die gemeenskap. Daar is nog ander projekte in die pyplyn, maar dit sal met ’n volgende geleentheid bekendgestel word,” het me. Bernice Webster gesê.

Die kinders het ’n oggend vol bederf geniet, en ’n gelukkige trekking het ’n kind se hart ekstra opgekikker toe hy die wenner was van groot beer wat ook deur die breispan gemaak is.

“Ek wil net vir almal wat bygedra het tot hierdie sukses, spesiaal bedank. Vir die brei van die goedjies en ook die verskaffing van verf en prente, ons waardeer die opregtheid in jul harte,” het Julie ter afsluiting gesê.

Back to top button