ADVERTISEMENT:

 

Hendrik J. Botha. Foto verskaf.

Oud-dokter se digbundel met hoë lof begroet

 

Hendrik J. Botha se debuutdigbundel, Atropos, het verlede maand verskyn en reeds baie lof onder resensente verwerf. Die digter is ‘n voormalige geneesheer van Louis Trichardt en was een van die stigterslede van die bekende Prognos mediese sentrum.

Botha het in die laat tagtigs en vroeë negentigs as algemene praktisyn op Louis Trichardt gepraktiseer. In 1993 het hy na Bloemfontein verhuis om daar as narkotiseur te spesialiseer. Sedert 1997 praktiseer hy as spesialisnarkotiseur, eers in Klerksdorp maar latere jare in Pretoria, waar hy steeds woon.

Skryfwerk was egter nog altyd vir hom ‘n passie en in 2011 het hy dit “geformaliseer” deur in te skryf vir ‘n MA-graad in Kreatiewe Skryfkuns by die Universiteit van Kaapstad. Sy studieleier by dié universiteit was die bekende prof. Joan Hambidge. Sy verhandeling het gefokus op sy spesialisveld en was getiteld “Dokters as Digters in die Afrikaanse Letterkunde”.

Die titel van Botha se bundel, Atropos, is ontleen van die Griekse mitologiese godin van die noodlot. Sy en haar twee jonger susters, Clotho en Lachesis, het die uiteinde van elke sterfling bepaal. Atropos was die een wat die wyse van die dood bepaal het en sy het die “lewensdraad” met haar gehate skêr gesny.

Die wêreld van die geneeskunde word ontgin in Botha se gedigte en die onderwerpe raak aan kwessies soos die menslike sterflikheid en verlies.

In ‘n onderhoud wat verskyn op die webtuiste, Versindaba, verduidelik Botha sy keuse van die titel en ook die tema vir die gedigte: “Verder word Atropos ‘n metafoor vir die dood, gif, (die onreg wat mense aan mense doen, die kwaad wat in mense skuil), ook die geneeskunde en meer spesifiek, narkose, ... Ook vir skoonheid en die liefde word Atropos ‘n metafoor.”

In die onderhoud vra Gizela Ullyatt hom wat sy gunsteling gedig in die bundel is, wat hy dadelik uitwys as Epitaaf:

Epitaaf (59)

Hier is geen versoek vir liefde,
vriendskap of begrip.
geen sug na lofprysings,
blomme of trane nie.
Net om in vrede
alleen gelaat te word,
met as nagedagte
miskien ’n pleidooi om genade.

Atropos word deur Queillerie uitgewers uitgegee en is beskikbaar by aanlyn-boekwinkels soos Loot.co.za, asook Exclusive Books. Die resensie en onderhoud verskyn by www.versindaba.co.za.

News - Date: 11 December 2015

Recent Articles

Search for a story:

 

Die digbundel, Atropos, se voorblad.

 

ADVERTISEMENT

 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

Email:

ADVERTISEMENT: