ADVERTISEMENT:

 

Generic image

Man betaal duur prys vir “vriend” se voertuig

 

‘n Jong man wat betrap is met ‘n gesteelde voertuig in sy besit het hierdie week sy Moses teëgekom in Louis Trichardt se streekshof.

Die 26-jarige Sean Simbarashe Muvirimi van Zimbabwe het Maandag in die hof verskyn op ‘n klag van die besit van vermoedelik gesteelde goedere. Hy is op Vrydag, 13 November, deur die Makhado Polisie in die dorp aangekeer. Die polisie het ‘n vierwielaangedrewe Toyota-bakkie teruggevind by ‘n huis in Songozwistraat, agter Laerskool Louis Trichardt se Bergvlietsportveld.  Net die vorige dag is die bakkie as gesteel aangemeld in Rustenburg.

Volgens die klag wat teen Muvirimi gebring is, is hy aangekla nadat die sleutels van die bakkie in sy besit gevind is. Nog ‘n man van Louis Trichardt is by die huis gearresteer. Nadat hy deur die polisie ondervra is, is hy egter weer vrygelaat.

Muvirimi het skuldig gepleit op die klag teen hom. In sy pleitverduideliking erken hy dat die klag teen hom gebring is omdat hy nie ‘n voldoende verduideliking aan die polisie kon gee oor hoe die bakkiesleutels in sy besit beland het nie.

Sy verduideliking was dat ‘n sekere vriend die bakkie by hom gelos het. Die vriend is vort om by sy meisie te gaan kuier wat in Tshikota bly. “Ek het ongelukkig nie die residensiële adres van sy meisie se huis gevra nie. Tydens my arrestasie het ek die polisie sy [die vriend se] selfoonnommer gegee, en hulle het hom probeer bel, sonder sukses - tot vandag toe. Hy het soos mis voor die son verdwyn,” het Muvirimi in sy verklaring gesê wat in die hof voorgelees is.

In ruil vir sy skulderkenning het Muvirimi die hof gevra om hom nie die maksimum straf op te lê nie. “Hy het homself op die verkeerde plek, op die verkeerde tyd bevind, en hy is verskriklik jammer oor wat hy gedoen het,” het Muvirimi se prokureur, mnr. Desmond Mphaphuli, gesê.

Staatsaanklaer me. Hilke Janse van Rensburg het die hof egter daaraan herinner dat ‘n skulderkenning nie altyd ‘n teken is van ware berou is nie, maar dat hy eerder spyt is dat hy gevang is. Sy het ook die hof daaraan herinner dat hierdie tipe misdaad algemeen in Louis Trichardt is, veral omdat die dorp naby aan die Zimbabwe grens is en dit algemene kennis is dat gesteelde voertuie op ‘n gereelde basis deur die grens gesmokkel word. “As die hof ‘n te ligte vonnis gaan oplê, sal dit die indruk skep dat misdaad ‘n lonende bedryf is,” het sy gesê.

Die hof het Van Rensburg gelyk gegee en gesê dat daar baie sake is van gesteelde voertuie, en gesê dat die klag teen Muvirimi ernstig is.

Muvirimi is ‘n boete van R40 000 opgelê of vyf jaar direkte gevangenisstraf. Volgens Mphaphuli het Muvirimi die boete betaal en is vrygelaat.

News - Date: 05 December 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: