Local newsNews

Kindersiektes los sy lelike merk

Die Rotavirus gastro-enteritis het vroeg verlede week kinders van alle ouderdomme begin aanval.

Die Rotavirus gastro-enteritis het vroeg verlede week kinders van alle ouderdomme begin aanval.

Little Pirates and Little Princesses dagsorg het hul deure vir drie dae gesluit as gevolg van hierdie virus.
Die skoolhoof, me. Estelle van Dyk het hierdie besluit geneem na ongeveer 12 kinders in slegs een klas, een vir een die virus opgedoen het.

Van Woensdag 16 tot Vrydag 18 September het Van Dyk besluit om hierdie skool van kop tot tone skoon te maak. Sy het ook bygevoeg dat hulle sanitêre tablette gekry het, soortgelyk aan dit wat in die hospitale gebruik word, waarmee hulle van bo tot onder skoongemaak het.

“Ek is jammer oor hierdie besluit, maar ek doen wat die beste is vir ons kinders,” het Van Dyk Dinsdag, 15 September vir ouers gesê.

Volgens navorsing is hierdie ’n hoogs aansteeklike virus.

Die primêre manier waarop hierdie virus oorgedra kan word is wanneer ’n kind, of enige ander persoon, badkamer toe gaan en nie hul hande was daarna nie. Of wanneer iemand aan ’n oppervlak raak wat reeds besmet is met die Rotavirus, kan dit so ook oorgedra word.

Nog ’n manier waarop jy besmet kan word met hierdie virus, is wanneer jy besmette water of kos inneem. Hierdie virus kan vir dae lank ‘lewe’ op hande en ook op droeë oppervlaktes. Dit kan ook vir ure lank op die menslike hande lewe.
Navorsing van hierdie siekte het bewys dat die eerste infeksie van hierdie virus die ergste is. Verdere infeksies is nie op so hoë vlak nie, aangesien die liggaam sy eie immuniteit opbou teen hierdie tipe infeksies.

Wanneer jou kind met hierdie siekte gediagnoseer word, is dit beter om jou kind eerder nie skool toe te stuur nie, aangesien ander kinders dan ook gaan aansteek. “Ons probeer ons skool so skoon as moontlik hou, maar ongelukkig versprei kieme baie vinnig onder die kinders,” het Van Dyk gesê.

Wanneer jou kind gereeld braak of diaree het, en ook niks wil eet of drink nie, is dit ’n saak van bekommernis. Meeste van die ouers wie se kinders siek geraak het, beweer dat hulle eers nie wou eet nie, koors gehad en toe het die diaree begin. Wanneer jou kind begin opgooi is dehidrasie baie naby.
Sommige van die ouers het ook gesê dat Lacteol Forte, Smecta en ook Re-hydrate die vinnigste werk om jou kind weer gesond te kry.

Daar is ’n inenting beskikbaar teen hierdie virus wat kinders wel tot ’n mate beskerm. “Daar was een baba in ons skool wat hierdie virus opgedoen het, die ander is gediagnoseer met ’n maagvirus. Hierdie baba is vyf maande oud, en word tans steeds by die huis gehou. Dit is die eerste keer wat so iets gebeur, maar die beste was om die skool te sluit en seker te maak dat alles goed skoongemaak word, al was ons al ons beddegoed een keer per week,” het Van Dyk gesê. Alhoewel daar sommige van die skole geraak was deur hierdie simptome, was geen bevestiging gegee dat dit wel die virus was nie.

Hierdie inligting is slegs riglyne om te voorkom dat meer kinders hierdie siekte kry. ’n Mediese dokter of praktisyn sal die regte dosis en inenting per kind bepaal.
Na bewering is daar gevallle van brienvliesontsteking in ander skole in eMalahleni.
Volgens sr. Mariska Blom doen breinvliesontsteking ook nou die rondte. Daar is definitiewe simptome wat aandui tot hierdie virus, maar sal deur ’n mediese praktisyn bevestig word. Die korrekte behandeling sal ook dan toegedien word.

 
Back to top button