Local newsNews

Diana hou weer die leisels styf vas

"Waar ek ook al ‘n kragpunt vir my skootrekenaar en ‘n koppie koffie kan kry, daar kan ek werk,”

Sy is ma, vrou en besigheidsvrou en sy kry dit reg om die balans tussen die drie te handhaaf.
Diana Jansen is vir die tweede termyn agtereenvolgend gekies as die vise-voorsitter van die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue.

Die aankondiging is op 12 September by Monte De Dios in Pretoria gemaak.

“Die eerste jaar is nogal oorweldigend. Alles is nuut en mens leer nog hoe goed gedoen moet word. In my tweede termyn kan ek verbeter op die eerste en die ondervinding wat ek opgedoen het gebruik. Om op die presidensie te wees gee my die geleentheid om skouers te skuur met die beste sakeleiers in Suid-Afrika en dis vir my ‘n reuse voorreg. Ek kry ook die geleentheid om fenomenale sakevroue as mentors te hê,” het die energieke ma van twee gesê.

“Ons vrouens het meer veerkrag as wat ons besef. Die meeste suksesvolle sakevroue het ‘n ‘bounce-back’ storie van hoe hulle geweier het om te gaan lê, ten spyte van die aanslae van die lewe. En daardie veerkrag is in elkeen van ons, nie net in sommiges nie,” het Diana gesê.

Diana is getroud met Thinus, wie sy beskryf as haar beste vriend. Die egpaar het twee kinders Lian (7) en Ilke (4).

“Kyk, ek gaan nie eers probeer voorgee nie. Dit gaan in ons huis soos in enige normale huishouding met twee rakkers. Ek dink elke ma twyfel soms of sy alles gedoen kan kry, maar dinge val gewoonlik in plek. En as dit nie vir my man en die twee stelle oupas en oumas was wat naby gebly het nie, sou dit ‘n reuse uitdaging gewees het. Ek moes ook leer om my energie meer te bestuur as my tyd. Dit help nie mens het tyd, maar geen energie om dinge saam met die kinders te doen nie. Wat dit lekker maak van my nuwe besigheid, ek kan enige plek werk. Waar ek ook al ‘n kragpunt vir my skootrekenaar en ‘n koppie koffie kan kry, daar kan ek werk,” het Diana vertel.

Diana raai vrouens aan om by die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue aan te sluit omdat elke sakevrou, volgens haar, ‘n ondersteuningsnetwerk nodig het.

“Daar is baie organisasies waaruit mens besigheid kan genereer, maar nie net bied die raad ’n ondersteuningsnetwerk, ‘n platform wat jou die geleentheid gee om saam met ander sakevroue te werk om die gemeenskap op te hef en ook om in ander sakevroue te belê nie, maar ook hier word ware vriendskappe gesluit.”

Diana het gesê dit gaan oor die ontginning van potensiaal, nie net in mekaar nie maar ook in die informele sektor.

Die fisioterapeut sit nie stil nie, sy is passievol oor mense, entoesiasties oor die lewe en altyd op soek na geleenthede om potensiaal in mense te ontgin.

 
Back to top button