ADVERTISEMENT:

 

Wyle Maggie Castleman. Foto verskaf.

Ma voor werk geskiet

 

Die omstandighede rondom die moord op die 48-jarige me. Maggie Castleman bly steeds onduidelik. Haar bebloede liggaam is gevind voor haar werkperseel, Gouws Auctioneers, in Presidentstraat, Louis Trichardt.

Maggie se werkgewers van Gouws Auctioneers het nog probeer om haar lewe te red, maar sê hulle was te laat. “Toe ek hoor hoe sy roggel, het ek geweet dit gaan nie meer lank wees nie...” het eienaar mnr. Johnny Gouws kort ná die voorval gesê.

Hy en sy seun, Francois, het eers nie besef Maggie is geskiet nie, en het noodhulp toegepas terwyl hulle gewag het vir ‘n ambulans. Dit is eers later, nadat die ambulans en polisie opgedaag het, dat hulle agtergekom het sy is geskiet.  

Maggie het langs haar wit Uno, aan die bestuurder se kant, op die gras gelê. Sy was in haar nagklere gewees

Johnny vertel dat hy en sy gesin besig was om Saterdagaand te braai by hulle huis, wat grens aan die afslaersperseel, toe hulle ‘n “klapgeluid gehoor het wat soos ‘n kardeur klink wat toeklap.” Hulle het ondersoek ingestel, maar niks verdag gesien nie. Maggie, sê Johnny, het altyd by die perseel gestop om gebruik te maak van hulle gratis WiFi.

Vriende van Gouws-hulle het eers later buite verby gery en gesien daar is fout en hulle geroep om te kom help. “Ai, Maggie ... dit lyk of sy slaap...” het Johnny op die toneel gesê.  

Johnny het hom ontferm oor Maggie, nadat sy gestrand was sonder werk toe sy sowat drie maande gelede van Nylstroom af Louis Trichardt toe getrek het. Volgens Johnny het Maggie ‘n verhouding met ‘n man hier van Louis Trichardt gehad, maar die verhouding het op die rotse beland.

Johnny het besluit om haar tydelik as ontvangsdame aan te stel om haar uit te help.

Maggie se suster, Louraine Robbertzen, het Woensdag gesê die familie het daarna uitgesien om vir Maggie terug te hê in Nylstroom.

Maggie het Saterdagaand, kort voor haar dood, nog met haar ma gesels en vir haar gesê dat sy hierdie Vrydag sou terugtrek na hulle toe. “Die skok van haar dood is onwerklik ... my ouers vat die nuus van haar dood baie swaar,” het Louraine gesê. Sy en haar gesin was Woensdag op pad na Louis Trichardt om Maggie se liggaam te kom haal.

‘n Goeie vriend van Maggie, mnr. Jean le Grange, het aan die koerant gesê dat hy en al Maggie se vriende platgeslaan is deur die nuus van haar dood. “Sy was ‘n wonderlike mens ... die wêreld kon by haar geleer het. Sy was altyd bereid om te luister of raad te gee, maak nie saak hoeveel seer sy gehad het nie,” het Jean gesê.

Maggie word oorleef deur haar dogter Jennifer Claassen (27). Haar seun, Nico, is vier jaar terug oorlede aan kanker.

Volgens plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane word Maggie se tabletrekenaar en handsak vermis. Radzilane het bevestig dat ‘n saak van moord ondersoek word, maar kon nie sê wie die mense is na wie die polisie kyk as hoofverdagtes nie. 

 

News - Date: 21 September 2015

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: