Editor's choiceLocal newsNews

Chané laat hare waai vir goeie doel

Dapper beteken nie noodwendig om vreesloos te wees nie.

Wat is dit om dapper te wees?
Dapper beteken nie noodwendig om vreesloos te wees nie. Almal het vrese. Daar is ook nie ’n weegskaal om moed te weeg nie en nie alle waaghalsige besluite kan gesien word as braaf nie. Elke persoon het sy eie mening omtrent wat dit beteken om dapper te wees.
Die 11-jarige Laerskool Klipfontein-leerling, Chané Potgieter, draai ’n lok van haar lang hare om haar vinger. Haar ma en talle ander sou meen dat haar hare een van die mooiste bates van haar voorkoms is. Dit raam haar pragtige gesiggie so perfek.

Op Saterdag 27 Junie, het Chané dié lieflike dos hare prysgegee vir ’n saak wat sy meer belangrik ag as haar skone voorkoms.
Dié 11-jarige meisie het haar familie verstom toe sy hul vertel van haar besluit om haar hare af te skeer en skenk aan die plaaslike kankervereniging (Kansa). Haar ma, Marinda, meen sy was woordeloos gelaat na haar kind se besluit. Na Chané haar ma oortuig het van haar besluit, het Marinda saam met haar navorsing gedoen oor Kansa en hoe haar kind se hare ’n verskil in iemand anders se lewe kan maak.
“Ek het gehoor van ’n dogtertjie wat haar hare afgesny het. Sy is net sewe jaar oud en ek het besef dis wat ek wil doen, en het dit toe met Mamma bespreek,” het Chané in een asem vertel. Om slegs haar hare te kleur en geld in te samel was nie genoeg vir Chané nie en wou sy ’n groter bydra maak.

Chané wou nog altyd mense help en haar ma vertel dat sy miskien in ’n mediese rigting sal gaan na skool. “Vir nou wil ek net jonk wees, kitaar speel en sing en vir Mamma op ’n lang vakansie vat.”
Die Potgieter-gesin is trots op Chané se besluit, so jonk soos wat sy is, om uit haar eie iets te doen vir iemand anders.
Ek kan myself net indink hoe ek sou voel as ek kanker gehad het – en daar is ek tussen lewe en dood. Al is daar altyd hoop,” vertel Chané was die grootste motivering vir haar besluit. Sy vertel vanuit ’n persoonlike perspektief hoe dit moet wees om nie baie geld te hê om ’n pruik te kan bekostig nie.

Chané daag almal uit met hare langer as 25cm om ook hul hare te laat waai vir ’n goeie doel.
“God het vir my die vermoë gegee en ook baie ‘guts’ om dit te doen. Dankie aan almal wat my ondersteun het. Dankie Mamma vir jou ondersteuning – eendag gaan ons nog see toe gaan!”
Om dapper te wees beteken dalk dat jy ’n kans waag… om op te staan en doen wat jy weet reg is. Om iets kosbaars op te offer vir jou medemens, soos jou tyd of dalk net ’n lok van jou hare.

Back to top button