NewsSchools

Bastion se hoof groet na 16 jaar

Die leiergroep van 2014 het hom bedank vir sy harde werk en die opbou van die skool die afgelope klompie jare.

Die hoof van Hoërskool Bastion, doktor Anton Hugo (Dok) Prinsloo, het die skool op 12 Januarie verlaat om nuwe uitdagings as hoof van Hoërskool Eldoraigne in Pretoria aan te pak.

Anton dien al sedert 1 April 1998, dit wil sê vir die afgelope 16 jaar en nege maande, leerlinge en personeel aan Bastion as hoof. Hy is die derde skoolhoof sedert die skool se ontstaan.

Sy vertrek is vir personeel en leerlinge ‘n hartseersaak, maar hulle verstaan dat daar vir hom ‘n groter uitdaging wag. Hy het in 2002 gesê, “Harde werk en dissipline is die sleutelwoorde in die doeltreffende funksionering van ‘n skool” en het dit keer op keer met Bastion se puik prestasies bewys.

Onder sy leiding is personeel en leerlinge aangemoedig om elke taak en elke dag met passie en toewyding aan te pak. Hy sien ‘n skool se onderwyskorps, ouers en leerlinge as vennote en het altyd persoonlike interaksie tussen die betrokkenes nagestreef.

Anton het in September verlede jaar sy 52ste verjaarsdag saam met die skool gevier. By die vieringe het leier Luanelle van Niekerk van hom gesê, “Meneer Prinsloo se insette en leierskap beteken vir ons baie.”

Die leiergroep van 2014 het hom bedank vir sy harde werk en die opbou van die skool die afgelope klompie jare.

Intussen is die beheerliggaam van die skool besig met ‘n proses om ‘n interimhoof aan te stel. Oor die afgelope week is onderhoude met adjunkhoofde vir die pos gevoer. In samewerking met die Departement van Onderwys is daar besluit om die twee topkandidate, doktor Hardus van Loggerenberg en Lynette Jonker elkeen vir ses weke in die pos te laat waarneem.

Hardus en Lynette word hartlik geluk en sterkte toegewens met die groot rol. Bastion se beheerliggaam en die personeelkorps glo dat dit die regte besluit is om te verseker dat Bastion op die suksespad bly wat akademie en ander aktiwiteite betref. Die beheerliggaam en personeel ondersteun hulle en die besluit ten volle.

Dok Prinsloo verlaat Bastion op ‘n hoogtepunt vanjaar nadat die skool onlangs ‘n 100 persent slaagsyfer vir sy matrieks van 2014 behaal het. Die beheerliggaam, personeel en leerlinge wens hom sukses en sterkte toe met die nuwe uitdaging.

Check Also
Close
 
Back to top button