Local newsNews

Sassa-slenter: vrou stel haar saak

Sy verduidelik sy het gedink sy help haar gemeenskap, maar het in die proses 'n groot fout begaan.

‘n Vrou wat daarvan verdink word dat sy kop in een mus met bedrieërs is wat honderde weerloses uit hulle geld verkul het, stel haar saak.

Heleen Viljoen, 28, het aan die news verduidelik sy het gedink sy help haar gemeenskap, maar het in die proses ‘n groot fout begaan.

Talle inwoners van Krugersdorp-Wes, Appelpark en Burgershoop is woedend nadat honderde rande uit hulle Sassa-rekenings, waarvan sommiges se pensioen net R1 350 per maand is, onttrek is.

Viljoen sê ‘n vrou met die naam Sonet Steenkamp het haar buite ‘n winkel voorgekeer. Steenkamp het vertel dat sy vir die Ruimsig Gemeente werk en kospakkies het wat sy maandeliks uitdeel aan mense wat daarvoor in aanmerking kom.

“Al wat sy nodig gehad het was die laaste vyf nommers van jou Sassa-kaart en jou identiteitsnommer,” sê Viljoen.

“Daar is baie mense in die dorp wat sukkel en daarom het ek gedink ek help hulle deur vir hulle ‘n maandelikse kospakkie te kry. Ek is self ‘n slagoffer want ek het ook my besonderhede gegee omdat ek haar geglo het.”

Sy sê sy word nou so deur die gemeenskap geviktimiseer dat sy nie naby haar familie kan kom wat in Appelpark woon nie.

“Die gemeenskap kruisig my nog voordat hulle my kant gehoor het. Ek moet nou op ‘n ander plek bly omdat hulle nou vinnig is om klappe uit te deel en my te kritiseer.”

Viljoen verduidelik dat Steenkamp haar belowe het dat as sy mense kry wat in aanmerking wil kom, sy ‘n ekstra kospakkie sal ontvang.

“Op daardie oomblik het dit vir my sin gemaak. Ons is almal behoeftiges en om ‘n kospakkie te kan ontvang sou ‘n mens baie gehelp het.”

Sy was toe in kontak met Steenkamp en ‘n vrou net bekend as Sonja, wat glo ‘n pastoor John Reeling se vrou is.

“Ek het eers regtig snuf in die neus gekry toe ek ‘n SMS-boodskap ontvang het dat daar iets voorgeval het en dat die kospakkies nie afgelewer sou kan word nie.”

Die news het self dié SMS in SMS-taal met verskeie spelfoute gesien.

Viljoen het die kontakbesonderhede van die twee vroue met wie sy gesels het ook aan die news verskaf, maar die nommers is nie meer in gebruik nie.

“Ek wil mense waarsku dat hulle steeds besig is om ander te kul en moet gevang word,” sluit Viljoen af.

Inwoners van die Van Riebeeck-tehuis soos Joey Breimer, Thys Mostert en sy vrou Annatjie is ontsteld dat hulle vir hierdie slenter geval het en moes inderhaas nuwe kaarte kry.

Verwante artikels:

• Sassa gee terugvoer oor slenter

• Kerk distansieër hulle van nuwe Sassa slenter

• Bejaardes wees gewaarsku

One Comment

  1. Baie dankie aan die nuus dat my kant kon vertel word. Ek was nie kaans gegee deur die gemeenskap nie. Al wat ek vra is dat ek n kaans gegun word om onskuldig bewys te word. Asb gun my om my familie te sien. Ek mis hul baie.

 
Back to top button