ADVERTISEMENT:

 

43. Daisy vra haar geld terug (deel 2)

 

Twee oggende na mekaar is Daisy op voor Bernard haar kom wakker maak vir ‘n drafstappie. Sy geniet dit selfs om die son in die bos te sien opkom saam met haar geliefde. Die derde oggend kla sy dat daar te veel vars lug in haar longe is. Die vierde oggend trek sy die duvet stewig oor haar kop en ignoreer al Bernard se pogings om haar te motiveer. Die vyfde oggend grom sy vir Bernard.

Sondagoggend sit Daisy vir Bernard en inwag voor sonop. Sy het haar groot wit koffiebeker in die een hand en sy glimlag vrolik vir hom. In haar ander hand hou sy ‘n sigaret vas.

“Oepse Daisy!” is al wat hy sê voor hy met ‘n skewe glimlag sy hardlooproete met gemak aandurf.

“Bernard,” roep Daisy hom toe hy natgesweet by die huis aankom. “Jy onthou nog dat Ousus en Jakobus hier kom eet vandag, nê? Ons het so lanklaas ‘n lekker skaapboud gemaak met gebraaide aartappels en rys en brokkoli met kaassous ... Ek sien regtig uit na ‘n tradisionele Sondagete!”

“Daisy, my diertjie, net omdat jy nie by jou ooreenkoms hou nie beteken nie dat ek my dieët gaan verbreek nie. Ek begin nou net hierdie hoë-vet ding geniet nadat ek die skuld van jare se kondisionering afgeskud het. En vrugte gaan ek eers ernstig mis wanneer die lietsjieseisoen in volle swang is. Dis nou wel jammer van die pasta, maar daar is darem honderde maniere met groente wat ons nog nie beproef het nie...”

Daisy kyk geskok na Bernard. “Wil jy nou vir my sê jy wil nie gebraaide aartappels eet nie, Bernard? En niks kaassous nie? Dis Sóndag!”

“Nou wat daarvan dat jy vandag afvat, Daisy? Jy kan die tafel mooi dek en blomme orals in die huis sit en sorg dat daar genoeg wyn en ys en dinge is, dan kook ék vandag vir ons middagete. So reg uit die rooi boek uit. Hoe klink dit vir jou, my mooiste?” Daisy knik stilweg.

In die tuin pluk Daisy haar selfoon uit die mandjie uit wat halfvol lenteblomme gepluk is. Sy bel naarstigtelik.

“Ousus, vandag is hier ‘n dekselse ding op hierdie werf. Bernard gaan kos maak! En nie T-bones en tjips nie – als kom uit Tim Noakes se boek! Jy gaan vir Jakobus moet voer voor julle hiernatoe kom en jy gaan maar ‘n paar blare en gesonde goedjies moet saambring vir jou om aan te peusel, want ek vermoed alles gaan vol botter en kokosneutolie en gansvet wees! Niks rys of aartappels nie.”

“O, en Plore is ook hier die naweek? Ag tog, jy sal moet mooi verduidelik. Ek dink Bernard kry my terug daarvoor dat ek nie wou hardloop saam met hom nie en nog steeds rook...”

Die res van die oggend vermy Daisy vir Bernard wat verwoed kook in die rooi kombuis. Sy dek die tafel met Sondagporselein en silwerware, vryf die kristalglase blink en span ritse wit vlaggies. Sy maak individuele rankskikkings by elke sitplek van die lenteblomme en vou en hervou die wit damask servette.

Later sit sy haar gunsteling Joan Sutherland CD op, draai die volume hoog, gooi ‘n glas wit wyn in en sit op die stoep en rook. Sy vrek van nuuskierigheid oor die heerlike reuke wat uit die kombuis kom, maar haar koppigheid weerhou haar daarvan om oor Bernard se skouer te gaan loer. Buitendien kou sy byvoorbaat haar naels oor wat haar swaer en Plore gaan dink van Bernard se alternatiewe kos. Sy hoop net Ousus het haar advies gevolg en daardie manne van haar se eetlus getemper...

Die kuier verloop verbasend gemoedelik. Almal sit op die stoep en ruil nuus en skindernuus uit. Soos gewoonlik is Juju en die Nkandla-verslag onder bespreking en Plore vermaak almal met sy nuutste vrystories. Jakobus gooi vir hom en (‘n baie gelukkige!) Daisy elkeen ‘n brandewyn en Coke en Ousus wei uit oor die nuutste leerplanne en die verwagte onderskeidings vir vanjaar se matrieks. Niemand waag dit om ‘n woord te sê oor diëte, oefening of rook nie.

Net toe roep Bernard by die stoepdeur: “Kom sit aan, almal. Die voorgereg is gereed!”

“Dis pangeroosterde harissa snoek met suurroom en gepreserveerde suurlemoen-sous,” verklaar Bernard trots. Daisy loer skelm na die afgehaalde gesigte van hulle gaste. Sy weet wat die onuitgesproke vraag is, “waar is die appelkooskonfyt en botter?”

“Dis ... interessant, Bernard,” probeer Ousus dapper. “Waar kry julle die gepreserveerde suurlemoen?”

“Daisy het dit self gemaak,” verklaar Bernard trots en druk Daisy se hand onder die tafel.

Die voorgereg borde is nie skoongeëet nie. Maar Bernard hou hom besig met die hoofgereg en sien gelukkig nie. Uit die kant van haar oog sien Daisy ‘n spul heerlike steaks langs die gasstoof lê. Sy pak die skottelgoedwasser met ‘n lied in haar hart. “Hoe sleg kan dit wees as die hoofgereg die stapelvoedsel van Waterpoort is,” dink sy optimisties.

Bernard kom met ‘n glimlag groter as die Cheshire kat uit die kombuis uit en sit ‘n warm bord kos voor elkeen neer. Jakobus en Plore is skielik doodstil. Hulle staar na die borde voor hulle.

“Ag heerlik, Bernard! Steak. En avokadopere. Vertel bietjie van die sousie wat jy hier oor die steak het?” Daisy se entoesiasme verloor stadig spoed terwyl Bernard vertel van die heerlike gorgonzola en spekvleis, die knoffel en room.

“O, en amper vergeet ek – hier is die brokkoli mash en gebraaide Rosa tamatietjies vir bietjie kleur! Mens mis glad nie eers die gebraaide aartappels nie, nê?” Bernard se beker trots loop oor.

Teen sononder bel Daisy vir Ousus.

“Julle kan bly wees julle het nie gebly vir nagereg nie, Ousus! Ek het nou net aan Bernard se heuning en olyfolieroomys geproe...”

“Weet jy dalk hoe ek moet maak om my geld terug te kry wat ek by Kalahari spandeer het op daardie vergalste rooi kookboek?”

Daisy - Date: 29 August 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: